Om soos Jesus se dissipels meer en meer van die Here te kan leer om sodoende soos ons leermeester te kan wees, is vir ons baie belangrik. Dissipelskap is vir ons om meer en meer soos Jesus te word, met die wete dat ons nooit soos Hy kan wees nie. ’n Leerling wil graag soos sy leermeester wees.
Hier word veral moeite gedoen om lidmate bloot te stel aan ’n bietjie meer as net ’n normale erediens. Hier word gebruik gemaak van gefokusde preekreekse en verskillende programme om die hele gemeente op een saak te laat fokus. Daar het al tientalle reekse die lig gesien en ‘n verskil gemaak in lidmate se lewens. Daar word verder kontakgeleenthede geskep in die week om lidmate verder toe te rus oor die week se tema.
Ons maak gebruik van preeknotas en meegaande handboekies, asook ligbeelde wat via die dataprojektor vertoon word. (Ons gemeente beskik alreeds oor ’n biblioteek van nagenoeg 900 preke op cd).
Dit is wanneer ons geestelik in diepte groei dat die gemeente spontaan ook in die breedte kan groei in haar getalle.